Monday, April 1, 2013

30/03/2013

Dames en here.
Ek bied aan, die voorlaaste dag van Drommedaris VIII. 'n Unieke ervaring vir een en elke deelnemer. Ons het vanmôre weer voor die haan se kraai vertrek uit Willowmore. 'n Klein dorpie aan die hange van die swartberge. Ons het die fondamente van die plek geskud met 'n Pool-toernooi wat vanmôre om 4 uur deur Johan Winterbach en Dihael Prins, aka Hos, oorwin is. Vandag se 140km was net so veeleisend soos die vorige dae, maar die eindbestemming het ons darm motiveer om te volhard. Ons is om en by 20km buite Oudtshoorn ontmoet deur 3 van Eljada se fietsryers wat saam met die toergroep die laaste mylpaal afgelê het. Derhalwe is Eljada 'n instituut vir geestelike versteurings, waarvoor ons hierdie jaar fietsry en fondse insamel. Hier en daar het ons bietjie swaar getrek, maar op die ou einde is almal saam deurgetrek en -gestoot. Die gevoel om die laaste km in die dorp in te ry op die maat van Superhero van Eden is 'n eens in 'n leeftyd geleentheid. Taro Rossouw en Dihael Prins het vandag hulle eerste en laaste skof afgelê. DJ eezie B, is selferkende beste DJ, vandag se DJ's, Joubert Nonnie Hoy, Anton Altyddaar van Zyl en Droë Jan van der Walt. Vanaand oornag ons in 'n kerksaal by Suid-gemeente in Langenhoven straat. Drommedaris 2013, 1380km in 10 dae... Dankie Pappa...

29/03/2013

En was dit nie 'n goeie vrydag nie.
Ongelukkig is koper 'n geleier en nie 'n isolator nie. Maar die manne moes vandag hulle koper wys en al die natuurelemente trotseer. Ons het mis deurkruis, wind teëgetrap en deur reënbuie geswem. Dian Rosslee en Charl Theron het voor ons amptelik in die pad geval het vir die dag se skofte, letterlik in die pad geval. Spoedvraat was sonder twyfel Christoff Muller, vanweë sy bergfiets se vermoë om die padfietse ore aan te sit. Jan-Toit Venter is vandag gekroon as King of the Mountain, welgedaan. Danïel Conradie het sommer vroeg in sy eerste Drommedaris-skof besluit dat hy eerder teen sy eie pas wil fietsry en geen volgeling sal wees nie. Ons DJ's vir die dag was Joubert Sê Almal Hoy en weereens Anton Powernap van Zyl. Hulle strooipraat het ons vir die volle 10 ure bemoedig. Vanaand slaap ons oor in 'n hotel se eetsaal in Willowmore, weereens 'n belewenis van 'n ander kleur. Die dag het uiteindelik aangebreek waar ons Oudtshoorn binne een slapie sal bereik. Dink een en elk van ons het vandag besef dat die krag wat Jesus uit die dood opgewek het leef in ons. Ons wil graag hierdie dag opdra aan ons Pappa wat aan die kruis gesterf het vir my en jou.

28/03/2013

Die algemene aanvaarde begrip is dat die roete al malkliker sal word soos mens seevlak nader. Daarteenoor word die avontuur meer uitdagend soos ons na Oudtshoorn vorder. Ons het vandag telke male passe uitgeklim, definitief 'n eerste vir ons. Drommedarissers het 'n afkeur in afdraendes, omdat ons tot die besef gekom het dat daar meestal 'n opdraende volg. 150 km verder het ons by die Methodiste Kerk in Graaff-Reinet gearriveer. Een van ons gerieflikste slaapplekke tot dusvêr op Drom. Jacques de Wet het vandag 75km/h geklok, die vinnigste van al die fietsryers. Dawie Marx en Phillipolis Brummer het natuurlik besluit om een die bergpieke te gaan verken te voet eerder as met hul fietse en het gesorg vir 'n eindelose breuk. Hiermee bevestig ek dat talle manne 500 km op elke been het en dus 'n netto-trap van 1000km sterk is. Ons wens graag Dawie Marx, Jédri, JP, Riaan, Vincent, Jan-Toit, Phillip en Henry geluk. Die DJ's, Alexis Verkes en Jeano Coetsee het ons meer aan die lag gehad as aan die dans met al hulle mannewales. 'n Interessante stukkie statistiek is dat ons met 1 graad in lengtelyne verander het in Drommedaris. Vandag se roete was skilderagtig en ons is hierdie maal verwelkom met oranje strale wat weerkaats van 'n waterpan by die dorpsingang. Vanaand het ons aan braaibroodjies en tjops gesmul, geborg deur ons eie persoonlike kosspan. 'n Gesegde in Sonop lei dat 'n Sonop-man altyd 60% oor het en vandag het ons dit net weereens bewys. My ma probeer my van kindsbeen af verduidelik wat kameraadskap is met voorbeelde soos "The three muskuteers" en dies meer, maar vandag het ek uiteindelik die begrip gekop. Sonop, 1 for all and all for 1.

27/03/2013

Ons het vanmôre om 6 uur weggespring met bewolkte misweer in die berghange. 'n Nuwe ervaring vir meeste fietsryers, aangesien ons meestal in snikhete sonskyn swoeg. Daarby het ons ook reën teëgekom met ons vaart in Colesberg in. Die Noorde was vir 'n volle 50km 'n skilpad ryker. Ons het skuins voor middagete 'n hemelsbreë brug oor die Oranjerivier oorkruis. 120km in 1 skof en 'n totaal van 180km in die volle dag. Amavis Dalton het agter die stuur van ons Drom-bakkie baie kritiek ontvang! Ons DJ's, Danïel Conradie en Anton van Zyl het ons deur die dag gedra met hulle afrikaanse keurspel van hoofsaaklik Superhero-the song. Henry het alweer geval, maar darm koning van dis bulte ontvang . Phillip Brummer kan sekerlik as die mees geesdriftigste fietstyers op Drom beskryf word. JP Hendriks, gekroon as spoedvraat. Ons het 'n kilo of twee te voet afgelê en 'n grensdraad oorsteek, ten einde die hoofweg te vermy. Veiligheid altyd eerste. Waarneming: Maak nie saak hoe miniatuur 'n dorpie is nie, daar sal altyd 'n skouspelagtige kerkie te siene wees, prioriteite.
Daar is geen woorde wat die gevoel kan beskryf as 'n trop wilde perde teen 'n rooi-oranje sonondergang langs die peleton gallop. Met ons skadu's wat plek plek met hulle s'n ontmoet. Ons is in Noupoort ingelei deur 'n gietswart trein. Daaraangekom het ons die kleuters van 'n kinderhuis elk vir 'n pretrit op die tandems geneem! Ons besoek vanaand 'n spookhuis sonder elektrisiteit in Noupoort. Maar meer belangrik, die rehabilitasiesentrum hier, wat se integrale rol somtyds misgekyk word. Ons is weer ons kosspan ryker en kan dus weer vanaand met magies vol gaan slaap. Soos u weet is daar niks beter om 'n mens se kop skoon te kry as die lang pad.

26/03/2013

Met 'n traan in die oog het ons vanmôre van ons vriende afgesien by Bloemfontein. Dankie manne, daar sal 'n leemte op die res van Drom wees sonder julle. 
Ons het ons kosspan misplaas as iemand hulle opspoor in Bloem? Het 'n voëltjie hoor fluit dat dit moontlik vanweë 'n foutiewe Quantum-bussie dieselpomp is. 
Henry Mathews het net na middagete ons vermaak met die eerste volwaardige val vir Drommedaris. Henry, bring net jou eie heup saam. Cornelineus Kosbring, met 'n skakering gemmer in sy hare ontken dit vir die dood.
2de Skof DJ's Billy Lions, 'n ware nar en Jan-Paul Botha het ons darm geboei vir die laaste 30km's wat ons vandag moes voltooi. Ons DJ's vir ons eerste skof tot in Edinburg, Anton Tenoor van Zyl en Ruan Eenoor-hoor van Heerden het ons bemoedig in die 90 kilo's waartydens ons angstig gewag het op ons middagete wraps. So gebeur dit dat Litchi die plaaslike dokter op Trompsburg moet gaan spreek, vanweë sy oor. Hy eindig toe op by 'n dokter wat grootgeld vra, maar se van Kleingeld is. Raak to so aan die klets en kort voor lank besef hulle dat Dr. Kleingeld 'n oud-Sonnopper is. Die wêreld is klein. Dan wil ek graag meld dat ons eerste steke op Drom vandag toegedien is op 'n ene Mnr. Christoff Muller, ons blokman met 'n mes in die voet. Trompsburg, definitief een van daardie klein dorpies met die groot harte. Het vandag selfs ook verby Taaibos gery, hande in die lig, asook ons agterstewe, hou 'n mens dan op Drommedaris as jou chommie klaar is?
Môre pak ons 170km in 1 dag, tot dusvêr ons persoonlike vêrste, na die rehabilitasiesentrum in Noupoort aan.
En so kom ek gisteraand agter die kap van die "Pricilla storie"-byl. Maar ongelukkig is ek vanaand te uitgemat om die storie uit te lap, so dit sal moet wag vir 'n ander tyd.